Wat is nou lekkerder as om jouself in jou taal uit te leef – Om te leer, speel, dig en sing in Afrikaans? Dis kleurvol, dis kreatief, dis ougat, dis opwindend, dis poenankies ... Dis Afrikaans!
Die Afrikaans 100-bordspel herdenk saam met miljoene mense Afrikaans, My Taal se 100-jarige bestaan as amptelike taal.
Afrikaanssprekendes is lief vir hul taal, en ons almal Eet, Slaap en Praat Afrikaans.
Die Afrikaans 100-bordspel bring mense saam in die mooiste, soetste taal – families, vriende en vreemdes. Gesinne en gesante, die skoonfamilie, grootouers, kleinkinders, oompies en tannies, asook jou makkers, tjomme, pêlle, vyande, mededingers, opponente, kollegas, medewerkers en spanmaats; almal bymekaar om Afrikaans te vier deur genotvolle samesyn, met of sonder biltong, melktert, koeksisters, rooibostee of brandewyn.
Die Afrikaans 100-bordspel is heerlik interaktief, met spanne of spelers wat mekaar laat skaterlag met hul sang of fluite, welluidende, droomsagte en klipharde gedigte wat die gemoed laat smeul, skreeusnaakse idiome en sêgoed, beskrywing van lawwe, koddige, aardige en eg Suid-Afrikaanse woorde, die besonderse uitdaging óf nagmerrie om moeilike woorde reg te spel en ook sommer om ’n klomp dinge/goeters/ietse en feite oor Afrikaans, Afrikaanswees of Afrikaanse mense te leer.